Dood en die Verkoopsman

Ek is al so gewoond daaraan dat mense wat hul bestaan uit verkope maak mens ‘n rat voor die oe probeer draai, dat ek altyd op my hoede en somtyds blatant ongeskik is. Jy word hemel en, as jy NOU koop, ‘n pak suigstokkies belowe, maar as die stof gaan le en die fynskrif sigbaar word sit jy met jou gat op die aarde en ‘n slegte smaak in jou mond.

Hul welstand hang immers daarvan af om die volgende persoon te oorreed om ‘n paar skille te oorhandig en die lys van mense wat hulself nie eerste plaas nie is bitter kort.

Vandag het ek en my (beste) vrou (in die HELE wereld) ‘n aanbod vir ‘n huis ingesit. Dis die eerste keer wat ons poog om ‘n nessie te bekom en die spanning loop besonder hoog. Ons is keer op keer verseker dat alles in orde is en as ons weer kyk is voorwaardes verander en die stryery is voortgesit.

In die oog van die storm het die verkoopsagent desperaat probeer verhoed dat die aanbod nie opgeraap en weggespoel word nie. Stoksiel alleen het hy vasgebyt terwyl elke kwaai woord en knorrige korrespondensie in sy rigting gewaai het.

Ons het almal vergeet dat ons met mekaar gefrustreerd is en dat ons wantroue heel moontlik misplaas is.

Toe ek hom vanoggend gebel het was ek gewapen met ‘n arsenaal van dreigemente en ultimatums. Gelukkig het ek eerste gevra hoe dit met hom gaan en verneem toe tot my skok en onsteltenis dat hy nie net sy moeder moet ondersteun deur haar stryd met Leukemia nie, maar dat sy lewensmaat ook gister oorlede is.

Vanmiddag het ek die kontrak vir die soveelste keer onderteken, maar het die keer stil gebly en hom kans gegee om te praat sonder enige verwyte of aantuigings.

Ek is herinner dat verkoopsmanne ook net mense is wat ‘n bestaan probeer maak in ‘n somtyds harde en hartseer wereld. Die man wat voor my gesit het met trane in sy oe terwyl hy my fotos van sy afgestorwe geliefde wys het deur alles ‘n brawe gesig opgesit en ons probeer gelukkig hou ten spyte van sy leed.

Ek het geen idee of die huisie ons sin gaan wees nie en op die oomblik voel dit soos ‘n klein onbenulligheid teenoor die sorge wat ander op ‘n daaglikse basis beleef.

Vandag bid ek net dat die eensame verkoopsman weer liefde mag vind en elke aand langs iemand kan inkruip wat wil hoor wat hy te se het.